Select Page
Genadige mense
Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?” Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer” (Matt 18:21-22).

Ons sing so dikwels: “Voordat ek kon kies, kon vra, het u Seun my skuld gedra.”

In die lig hiervan pas onvergewensgesindheid nie by kinders van die Here nie. Mense wat besef dat God hulle vergewe het, is altyd bereid om ander te vergewe en om jammer te sê.

Vergifnis is dan ook altyd genade. Om daarop aanspraak te maak is om geen idee te hê van wat vergifnis kos nie. Vergifnis kos altyd lewe. Dit het Jesus sy lewe gekos en dikwels kos dit, by wyse van spreke, iemand se lewe om ’n ander te vergewe. As jy al iemand vir ’n diep seer moes vergewe, sal jy presies verstaan wat ek hiermee bedoel.

Maar wat maak ons wanneer die lewe skeefloop en ons moet aan die een kant jammer sê en aan die ander kant vergewe? Daar is twee boeke wat vir ons waardevolle perspektiewe hierop bied. Die eerste is Exclusion and embrace van Miroslav Volf, en die tweede is No future without forgiveness van Desmond Tutu. Albei boeke beskryf hoe belangrik dit vir die proses van vergifnis is om alles bloot te lê, te openbaar. Vir Volf is die fase van exclusion wanneer die twee partye die wedersydse seer eerlik aan mekaar en sonder skroom openbaar. Eers wanneer ons dit doen, kan daar ’n proses van embrace volg.

Hierdie benadering het ons in Suid-Afrika gesien met die werk van die Waarheids- en Versoeningskommissie onder leiding van Desmond Tutu. Slagoffers en oortreders sit so te sê saam om die tafel en praat sake uit. Ons vee nie die probleem onder die mat in of maak dit af as gering nie. Ons is eerlik oor wat gebeur het. En dan omhels ons mekaar en vergewe mekaar.

As mense wat na die beeld van God geskep is, het ons ’n dubbele roeping in hierdie wêreld. Enersyds moet ons God se goedheid en genade en vergifnis na die wêreld rondom ons weerkaats. Andersyds moet ons die prysliedere en noodkrete van die skepping voor God bring.

Mag ons genadige vergifnis van ander en ons bereidheid om te sê ons is jammer ons nader aan ons roeping bring.

Dankie, Here, dat U so goed is vir my. Maak my ’n genadige mens wat maklik vergewe en vinnig om verskoning vra wanneer ek in die skuld is. Ek wil graag u goedheid en genade na almal in hierdie wêreld weerkaats. Amen.

Annes Nel is in Lambertsbaai gebore. Hy het in Bellville grootgeword. In 1977 begin hy sy teologiese studies aan die Universiteit Stellenbosch. Hy voltooi sy teologiese studies in 1985 en behaal ’n meestersgraad in die Ou Testament en ’n doktorsgraad in Sistematiese Teologie. Nadat hy twee gemeentes van die NG Kerk in Suid-Afrika en Namibië bedien het, word hy senior lektor aan die Universiteit van Namibië en later medeprofessor aan die Universiteit van Zoeloeland Godsdiens – posisies wat hy vir 10 jaar beklee het. Hy keer daarna vir 13 jaar terug na die gemeentebediening in die Presbiteriaanse Kerk in Ierland en is tans in diens van die Sendingkommissie van die Presbiteriaanse Kerk in Ierland met opdrag teologiese opleiding.