Met 2025 voor die deur kyk ons seker na die jaar wat voorlê met ondersoekende oë. In Speuke 27:1 lees ons dat ons nie te veel moet praat oor môre nie, want ons weet nie wat dit gaan oplewer nie. Mat 6:34 brei uit op die tema en voeg by dat ons nie bekommerd moet wees nie, want môre kom met sy eie probleme. Dit is dus duidelik dat ons weer moet kyk na Spreuke 16:9: “‘n Mens beplan sy koers, maar die Here bepaal sy bestemming.”
Om kerk te wees vandag is nie meer dieselfde as voorheen nie. As lidmaat van die kerk in die laat sewentigs het ons Sondae kerk toe gegaan, in die week bidure bygewoon en uitgereik na omgewings om as deel van ons sending aksies. Sending werk het ook beteken dat mens buurlande besoek en help met kerke vestig of die gemeenskap help. Ons jeug het Sondagskool bygewoon en aangesluit by die KJA. Die ouderling van ons wyk het huisbesoek gedoen. Alles was kerk ordelik reg en ons toekoms was nie vandag se realiteit nie.
Miskien het die tyd ons ingehaal, want die fokus was op struktuur en die kerk as organisasie. Intussen het die NGK se getalle amper gehalveer, want in die vroeë 80’s was ons om en 1.3 miljoen lidmate wat nou gedaal het tot 766 000. Dit beteken dat ons nou net 60% van ons vorige self is met ‘n tendens dat gemeentes nog steeds afskaal en verklein.
Navorsing toon dat COVID ‘n groot draaipunt was vir predikante en kerk bywoning. Voorheen was die bywoning van ‘n erediens se mediaan 137 en vandag kyk ons na 65, dus kan die meeste gemeentes nie meer ‘n voltydse leraar bekostig nie. Die werklikheid is dus dat 94% van kerke met 100 lede of minder nie meer ‘n voltydse leraar het nie en moet predikante waarskynlik beweeg na twee beroepe.
Dit is verder duidelik dat die sendingveld nie meer elders is nie om rede die kultuur van die gemeenskap om ons so verander het. Vandag moet ‘n kerkraad besluit of ons ‘n huwelik tussen dieselfde geslag lidmate gaan goedkeur en net buite ons gronde worstel die gemeenskap met die “WOKE” kultuur.
Wat beteken dit alles?
Dit beteken dat Fairland 2025 verandering inhou en dat ons in die hande van ons Vader is, want net Hy weet wat die beste uitweg behels. Ons moet gevolglik fokus op Wandel-in-die-Woord en gebed, want as ons die saak uit ons oogpunt ondersoek, dan lyk alles nie noodwendig so rooskleurig nie. Dit is nou tyd om uit te reik na buur gemeentes met die besef dat dit nie die beste oplossing is om alleen die mas op te kom nie.
Dit is dus noodsaaklik om Rom 5:3 tot 5 meer as een keer te lees waar Paulus meld dat ons jubel selfs in swaarkry. As gemeente weet ons dat God ons lief het en nooit sal versaak nie. Ons word miskien nou gelouter maar dit is alles deel van die wedloop. Verbly julle dus en wees verheug, want die Here is met ons. Prys die Here.
Vir almal in NGK Fairland – ‘n geseënde Nuwe Jaar.
Recent Comments