Ons glo dat die lewende Drie-enige God daagliks sprekend en handelend in die lewe van ons gemeente en gemeenskap teenwoordig is. Dit is dus logies om te verwag dat dit deel van ons grein is om IN PAS te wees met God se beweging in ons midde. Dit is egter nie so maklik nie en hoe doen ons dit?
- Ons moet luister en onderskei en dit gereeld in oefen.
- Dit beteken dat ons die Woord moet lees
- Gevolglik moet ons gereeld Wandel-in-die Woord
Vyf ritmes en vyftien gewoontes
Wat dit op neerkom is dat ons gemeente se ritme IN PAS moet kom met God se ritme en derhalwe moet ons ‘n paar ritmes aanleer. Dit is baie soos om te leer dans – aan die begin is dit ‘n getone trap en later kom dit natuurlik. Die punt is dat mens bewustelik moet leer dans, want dit kom nie vanself nie. As gemeente moet ons dus op ‘n reis gaan in 2025 om as gemeente te groei, ritmes aan te leer en nuwe gewoontes kweek: Alles om IN PAS met God se beweging in ons midde te wees:
- Die ritme om TE ONTDEK EN TE VIER
- Die ritme om TE LUISTER EN TE ONDERSKEI
- Die ritme om TE WAAG EN TE EKSPERIMENTEER
- Die ritme om TE VERHELDER EN TE FOKUS
- Die ritme om TE IMPLIMENTEER EN IN TE OEFEN
Ons oogmerk vir 2025 is om na elkeen te kyk en om te sien waar ons is. Elke ritme kom met ‘n paar praktyke wat dit maklik maak om die ritme te volg. Iets soos “Sigbare vieringe” is ‘n praktyk wat deel uitmaak van “Ontdek en vier” en ons gaan dus iets vier, soos ons eie kerk se verjaardag of net bloot ‘n dankie-sê erediens te hou. By so ‘n geleentheid kyk ons terug en wil God se beweging in ons midde sigbaar vier. Dit is ‘n tyd waar ons nie net vir God nie, maar ook vir mekaar dankie sê as broers en susters wat saam op die reis is.
Hierdie reis begin in 2025, maar sal nie eindig in 2025 nie. Dit is ‘n reis wat langer neem en oor tyd vrugte sal afwerp, want God is immers nie haastig nie. Geniet dus die reis en wees oop vir self ondersoek en die aanleer van ritmes en nuwe praktyke.
Een praktyk wat ons op fokus vir Januarie en Februarie is “Vorm ‘n gemeente-netwerk”. Dit is ook deel van “Ontdek en Vier” en baie belangrik in ‘n tyd waar gemeentes so verklein en sukkel om ‘n bestaan te maak. In Desember het ons tyd gehad om te gaan kuier by ander in ons omgewing en dit was virseker eers vreemd, maar dit is ‘n gesonde praktyk, want alleen staan is nie ‘n goeie ding nie. Ons vestig dus die gewoonte om onsself oor die langer termyn te verbind tot die vorming van leergemeenskappe met gemeentes en gelowiges wat saam op reis is. ‘n Gemeente-netwerk is ‘n groep gemeentes wat almal saam verbind is om ‘n missionale gemeentekultuur te vestig, en ‘n groepsverbintenis maak om saam te reis met die oog daarop om mekaar te mentor en by mekaar te leer.
Dit het groot waarde wanneer ‘n paar gemeentes ‘n netwerk vorm en met gestuurdheid as tema saamwerk.
Recent Comments