Select Page

Oktober maand is nie net die mooiste maand nie, maar ook die 10de maand. Dit is dus vanselfsprekend dat die kerk vandag hierdie spesiale maand sal gebruik om ons te herinner aan: “Gee“. Kyk mens na die Ou Testament dan kry mens die gevoel van ‘n verpligte 10% (of meer) wat gegee is om die Leviete, tempel en armes te ondersteun. Skuif ons oor na die Nuwe Testament, dan is die fokus meer op ‘n vrywillige, ruimhartige en vreugdevolle gee – nie ‘n vaste persentasie nie.

Die gee van tiendes/offergawes is veronderstel om ‘n vreugde te wees, ‘n seëning.

2 Korintiërs 9:6–7

“Elkeen moet gee soos hy dit in sy hart besluit het, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ’n blymoedige gewer lief.”

Handelinge 2:44–45 & 4:32–35

Die vroeë gelowiges het besittings gedeel en eiendom verkoop om mekaar se behoeftes te voorsien.

‘n Radikale vrygewigheid, nie gebind aan persentasies nie.

Matteus 23:23

Jesus berispe die Fariseërs omdat hulle noukeurig tiendes gee, maar geregtigheid, barmhartigheid en trou verwaarloos.

“Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle gee noukeurig tiendes van die nietigste deeltjies van julle inkomste, maar julle ignoreer die eintlik belangrike dinge waarom dit in die wet gaan: om te doen wat reg is, om ontferming te betoon en om mense van julle woord te wees. Julle behoort die tiendes te gee, maar die belangriker dinge mag julle ook nie nalaat nie.”

Dit is dus belangrik om stil te staan en ons gesindheid te bestudeer en dit is met hierdie gedagte wat ons Oktober 2025 aanpak. Elkeen gee maandeliks ‘n deel van hul inkomste om die gemeente te ondersteun, maar vir Oktober kyk ons met ander oë na hierdie saak. Ons ondersteun die bediening en die behoeftiges deur ietsie ekstra te gee.

‘n Geseënde Oktober 2025 aan almal wat hierdie boodskap lees.