“Dood, waar is jou oorwinning?” (1 Kor 15:55).

In ’n Katolieke katedraal in Wes-Duitsland hang ’n skildery wat ietwat makaber is, maar nietemin ’n meesterstuk. In die een hoek van die skildery is ’n voorstelling van ’n beroemde Katolieke heilige in ’n liggaamsposisie van diep bepeinsing. Sy kop gestut in sy een knokkerige hand, sy wyse, verweerde gesig vol rimpels en lyne, ’n toonbeeld van diep konsentrasie en meditasie. In sy ander hand, effens voor hom uitgestrek, hou hy iets vas wat skynbaar die voorwerp van sy bepeinsing is: ’n grynslaggende, wit-bleek menslike skedel, met hol oogkaste en vervalle neusgange. Ietwat grieselrig, maar onteenseglik treffend.

Die boodskap is klinkklaar. Hierdie heilige dink na oor die dood, oor die verganklikheid van die eenmaal-mens in sy hand. Meer nog, oor sy eie dood en sy eie verganklikheid. Dalk nóg meer, oor die dood en die verganklikheid van die ganse mensdom.

Die rede waarom hierdie makabere werk so meesterlik is, het nie te doen met die kunstige uitbeelding van die heilige of die skedel nie. Die fokuspunt van die skildery lê elders. In die ander hoek van die skildery is die kruistoneel. As jy mooi kyk na die oë van die heilige, ontdek jy ineens wat die ware boodskap van die skildery is.

Die heilige kyk na die kopbeen, na die verganklikheid van die mens, maar hy kyk ook oor en deur die skedel van hierdie verganklike mens na die Plek van die Skedel. Hy skou oor die dood heen na die dood van Jesus Christus. Hy bedryf ’n dubbele doodsdenke.

En dan ontdek hy: Christus het deur sy dood die dood gedood. Want die Gekruisigde het opgestaan. En sý opstanding verseker óns opstanding. Laat die kopbeen dus maar grynslag …

Here Jesus, U dood is my brood. Laat ek eet en leef. Amen.Johan Cilliers

Johan Cilliers is verbonde aan die Kweekskool van die Universiteit Stellenbosch. Sy vakgebied is Homiletiek en Liturgie. Johan is die skrywer van talle akademiese publikasies en artikels asook populêre godsdienstige boeke. Vanjaar se dagstukke vir Boodskap vir Vandag kom uit Johan se jaardagboek Die dag is vol genade.